Vandag het ons die ouetehuis baie gegee om oor te skinder! Ek, roosboompie en sussie het vir oumagrootjie cupcakes gevat vir haar verjaarsdag (al het sy eintlik lank terug verjaar), maar roosboompie het nie baie die vorige nag geslaap nie (haar ma en pa ook nie!). Als het okei begin, oumagrootjie was baie goed voorbereid met tjippies en speelgoed. Toe roosboompie begin onrustig raak het ons besluit ons gaan bal in die tuin speel. Sy was baie opgewonde daaroor. Lieflike groot grasperk en koelte onder ‘n grootboom, ons het gedink roosboompie gaan dit nou baie geniet, maar toe ons daar kom raak sy woedend: “tuin speel”, “tuin speel” skree sy. Hoe meer ek aan haar verduidelik dat dit die tuin is, hoe kwaaier word sy. Al wat ‘n tannie is probeer help, een bring pen en papier vir haar, die ander ‘n koei en perdjie…en almal gee raad, maar roosboompie word boos. Nou wat moet ‘n roosboomma doen? Pakslae gee voor al die ou tannies? Ek tel toe roosboompie op (skreeuend en skoppend) en stap so ver weg as wat ek kan. Later het sy bedaar en ek het haar pa laat weet om ons te kom haal. Oppad uit het nog so paar tannies kom kyk wat gaan aan – ek dink nie hulle het al so kwaai roosboompie tee gekom nie – almal se oe was groot gerek! Ek dink die kwaai kind se geskree gaan nog ‘n paar dae oor teekoppies bespreek word:)